Get Newsletter

Die grootste tweestryd

Saterdag, op Ellis Park in Johannesburg, gaan 'n tweestryd voortgesit word wat nou vir byna 'n eeu as die grootste wedywering in rugby beskou word.

Daar is geen twyfel dat wanneer die Springbokke en All Blacks met mekaar swaarde kruis, dit 'n magiese uitwerking het op die gedeelte van die wêreld se bevolking wat enige belangstelling het in hierdie sport wat met 'n ovaal-bal gespeel word.

Dit was reeds so vandat hierdie kaalvoet klonkie se kop-spiere sterk genoeg was om die ingewikkelde en komplekse spel te verwerk … so hier in die middel 1960s.

* To read the English version CLICK HERE!

Die Bokke en die All Blacks het mekaar reeds die eerste keer op 13 Augustus 1921 in Carisbrook, Dunedin, aangevat. Hulle het sedertdien in 88 Toetse kragte gemeet – waarvan die Kiwis 51 en SA 34 gewen het, met drie wat gelykop geëindig het.

Hul laaste ontmoeting was net meer as twee weke gelede in Wellington, Nieu-Seeland, toe die All Blacks naelskraap met 14-10 geseëvier het.

In die meer as nege dekades sedert daardie eerste ontmoeting in die 'Huis van Pyn' het bitter min verander – al was daar soms 'n wegholoorwinning of twee.

Ek wil julle egter terugneem na 1970, toe hierdie stryd van die reuse my belangstelling behoorlik aangegryp het – soveel so dat ek in 'n argument met my destydse laerskool onderwyseres gehad het toe sy vir my wil kom vertel ek kan nie 'n loopbaan van rugby maak nie.

'Jy sal 'n ander, regte loopbaan moet kies,' het sy my snedig voor die hele klas toegesnou.

Jammer, juffrou, ek het dit my loopbaan gemaak – miskien nie as speler nie, maar ek het.

En, terloops, dit is steeds die grootste gebeurtenis in die sport, self hier in die beroepsera.

Net soos hulle die week in Johannesburg sal aankom as die gunstelinge, was Brian Lochore se All Blacks van 1970 erken as die wêreld se No.1 span – welverdiend ook.

Maar Springbok se kind laat nie sommer met hom mors nie.

Die Bokke het die reeks drie-een gewen.

Na hulle die eerste Toets in Pretoria 17-6 gewen het, het die All Blacks in 'n brutale stryd in Kaapstad (waar Fergie McCormick twee van Syd Nomis se voortande uitgeslaan het) met 9-8 geseëvier. In die derde Toets in Port Elizabeth het die Bokke wraak geneem, letterlik, deur nie net deur McCormack as 'n vloer-mat te gerbuik nie, maar ook deur met 14-3 te wen.

En toe 'onttroon' hulle die All Blacks in een van die mees klassieke Toetse nog, toe Dawie de Villiers in Johannesburg skouerhoog van die veld gedra is na hy sy span tot 'n oorwinning van 20-17 (en ook 'n reeks-oorwinning) gelei het.

Terloops, die All Blacks word nie meer op Nuweland gesien nie, want – soos in 1970 reeds – wen hulle gewoonlik daar en kan hulle boonop op die ondersteuning van 'n klomp plaaslike inwoners staatmaak.

Maar terug na 1970 en daardie geskiedkundige reeks, waar Gerhard Viviers se ikoniese en gevleuelde woorde nou nog in my ore suis: 'Syddie, Syddie, Syddie … jou doring!'

Dit het gevolg na die vleuel, Nomis, se onderskep-drie.

Ja, dit was brutaal, uiters BRUTAAL.

Maar, soos Saterdag weer die geval sal wees, het hulle hande geskud, die grootste respek vir mekaar getoon en 'n paar koue verversings saam geniet.

Daar is ikoniese name in albei spanne, maar daardie Springbok-spanfoto pronk steeds in my eerste plakboek, wat nou veilig weggebêre is … vir wie weet.

Manne soos Mof Myburgh, Piston van Wyk, Tiny Neethling, Piet Greyling, Joggie Jansen, Gert Muller, Frik du Preez, Mannetjies Roux, Dawie de Villiers (as kaptein), Jan Ellis, Piet Visagie en Syd Nomis – om maar net sommige te noem.

Onder my gunstelinge in die All Black span was daardie skrumskakel met 'n agteruit-aangee wat Sonny Bill Williams soos 'n amateur laat lyk, Sid Going, Bryan Williams (van Samoaanse herkoms) en natuurlik die legendariese Pinetree (Colin Meads), wat die wedstryd teen die destydse Oos-Transvaal met 'n gebreekte arm klaargemaak het.

Ek is nou, net soos voor daardie vierde Toest op Ellis Park in 1970, kinderlik opgewonde oor eerskomende Saterdag se groot stryd tussen die twee voorste spanne in die wêreld.

Wen of verloor, dit gaan 'n reuse stryd wees wat alle kenners van die spel sal geniet.

Net om julle aptyd te wakker, kyk gerus hieronder na 'n paar uittreksels uit die 1970 reeks!

Deur Jan de Koning

ADVERTISEMENT

Join free

Two-time Commonwealth champion to Paris Olympian | Georgia-Mae Fenton | Stronger Than You Think | S3 Ep 3

England vs France | World Rugby U20 Championship Final | Full Match Replay

Scotland vs USA | U20 Trophy Final | Full Match Replay

Boks Office | Episode 15 | Extreme Golf Special

Embedded 2024 | England | Episode 4

Before They Make It | South Africa

Before They Make It | England

Aotearoa Rugby Podcast | Episode 22

Women's Six Nations winner to Paris Olympic sevens for Team GB | Ellie Kildunne | Stronger Than You Think | S3 Ep 2

Write A Comment