Marlow troef Jim Fouche
Marlow het Saterdag, 4 Mei teen Jim Fouche kragte gemeet in Bloemfontein en in die eerstespan wedstryd klop Marlow vir Jim Fouche 22-21.
Dit was in die begin van die wedstryd duidelik dat beide skole mekaar wou aanvat met aanvallende en klipharde spel.
Marlow het eerste punte aangeteken deur Jordaan Schoeman, wat agter die doellyn gaan kuier. Jordaan het ‘n taktiese skoppie vanaf ‘n losskrum deurgesit en self sy eie skop opgevolg en mooi afgerond.
Jim Fouche het hierna ook met tye aangeval en dwing ‘n strafskop af. Jim Fouche slaag met die strafdoel. Marlow het ook met elke kans aangeval en kon net nie afrond nie. JF gaan druk hul eerste drie nadat Marlow nie die bal uitskop nie en die besoekers gebruik die geleentheid.
Jim Fouche het ook voor halftyd geslaag met ‘n strafdoel. Die halftydtelling was 13-8 in Jim Fouche se guns.
In die tweede helfte speel Marlow met meer intensiteit en plaas die tuisspan onder baie druk. Marlow druk hul tweede drie van die wedstryd deur Nelius van Heerden, flank, wat afrond vanaf omgekeerde fasebesit.
Dirk van Wyk, heelagter, slaag met die doelskop. Marlow het hierna weer met goeie spel vorendag gekom en hul senterpaar breek die verdediging van Jim Fouche. Peet Schoeman, binnesenter, duik oor die doellyn vir die besoekers se derde drie.
Nelius van Heerden, vurige flank van Marlow, het ‘n skitter wedstryd gespeel en storm ‘n skop af en duik op die bal in die doelgebied vir Marlow se vierde drie.
Hierna is Marlow se tempo egter gebreek deur die eensydige en onverklaarbare wyse waarop die wedstrydbeampte die afbreekpunte gehanteer het. Marlow word keer op keer gestraf en dit breek die besoekers se momentum.
Jim Fouche slaag met ‘n strafdoel en ook ‘n drie. Marlow het egter karakter gewys en verdedig laat dit bars aan die einde van die wedstryd. Die Wolramme wen die kragmeting en behaal ‘n welverdiende oorwinning.
Marlow se pak voorspelers moet krediet kry vir skitter spel in die vaste skrums en lynstane. Jim Fouche het geen antwoorde gehad vir Marlow se vurige pak voorspelers nie.