Noord-Kaap sluit onoorwonne
Noord-Kaap van Kimberley het die Pukke Skouspel onoorwonne afgesluit danksy 'n sege van 43-13 oor Transvalia van Vanderbijlpark by die Fanie du Toit Stadium in Potchefstroom.
Die span van die Diamantstad se vleuel, Cameron Hufke, en agtsteman Gerhard Holtzhausen, het elk twee keer agter Transvalia se doellyn gaan kuier.
Kearsney College se flank, Tristan Dixon, is waarskynlik die beste voorspeler wat op vanjaar se toernooi in aksie is. Hy is welverdiend as speler van die wedstryd in sy span se sege van 41-10 oor Hoërskool Klerksdorp aangewys.
Dixon het verlede jaar vir KwaZulu-Natal op slot tydens die Cravenweek in Middelburg (Mpumalanga) uitgedraf. Die kantman het gewis sy tweestryd met verlede jaar se SA Skole-flank, Edmund Rheeder, gewen.
Die span se binnesenter, James Tedder, het agterlangs rigting verskaf. Hy moes egter weens 'n seer heup vroeg in die eerste helfte die veld verlaat. Klerksdorp se senter, Michael Steinberg, het 'n stewige vertoning gelewer.
Potchefstroom Gimnasium se twee slotte, Gideon Botha en Marco van den Berg, het baljaar in hulle span se oortuigende sege van 60-13 teen Hoërskool Florida. Botha is as speler van die wedstryd aangewys, met Van den Berg wat twee keer Florries se doellyn oorgesteek het.
Gimmies se losskakel, Casper Dreyer, het 20 van sy span se punte via 'n drie, ses doelskoppe en 'n strafdoel aangeteken. Die span van Potchefstroom se kaptein en agtsteman, Gerhard Steenekamp, het soos gewoontlik met sy kraglopies sy span se teenstanders probleme besorg.
Punte en puntemakers:
Noord-Kaap 43-13 Transvalia
Vir Noord-Kaap:
Drieë: Cameron Hufke 2, Gerhard Holtzhausen 2, Howard Lottering, Gladwin Nieuwenhuysen, Zayne Farmer
Doelskoppe: Hufke 4
Vir Transvalia:
Drie: Pleij van der Broek
Doelskop: Wernich Human
Strafdoele: Human 2
Kearsney College 41-10 Hoërskool Klerksdorp
Vir Kearsney College:
Drieë: Sebastian Pau, James Tedder, Cian Waugh, Joshua van Vuuren, Matthew Watts
Doelskoppe: Tedder 2, Cameron Ritchie 2, Cullen Waberski
Strafdoel: Tedder, Waberski
Vir Hoërskool Klerksdorp:
Drieë: PJ Ellis, Edmund Rheeder.
Potchefstroom Gimnasium 60-13 Florida
Vir Potchefstroom Gimnasium:
Drieë: Marco van den Berg 2, Damon Jaswyn 2, Otto van der Westhuizen, Gideon Botha, Gerhard Steenekamp, Casper Dreyer, Heinrich Siepker
Doelskoppe: Dreyer 6
Strafdoel: Dreyer
Vir Florida:
Drieë: Waldo Bochnik, André van Zyl
Strafdoel: André Bezuidenhout
Hoërskool Rustenburg 43-34 Framesby
Vir Hoërskool Rustenburg:
Drieë: Danie Aucamp 2, Jandré Joubert 2, Christopher Coetzee, Gerhard Fourie, Johan van Niekerk
Doelskoppe: Johan Roos 5
Vir Framesby:
Drieë: André Lategan, Roelof Roodt, Jurgens Viljoen, Bernard McDonald, Dylan Olivier, Riaan van Rensburg
Doelskop: Wayne Moss 2
HTS Drostdy 16-12 Waterkloof
Vir HTS Drostdy:
Drie: SJ Wessels
Doelskop: Earl Dowrie
Strafdoele: Dowrie 3
Vir Waterkloof:
Drieë: Stedman Gans, Dylan Robinson
Doelskop: Quintin Bayards