Oakdale wen ver in Riversdal
Die Hoër Landbouskool Oakdale het Saterdag gasheer gespeel vir die agt spanne van Langenhoven Gimnasium wat op die plaas gaan kuier het. Vanaf die eerste wedstryd van die dag was dit duidelik dat die spanne van Gimnasium 'n moeilike dag hier aan die voet van die Slapende Skoonheid sou beleef.
Dit was egter die o.19A-span van Oakdale wat beïndruk het met die breë spektrum van bal- en hardloopvaardighede. Langenhoven Gimnasium het hard probeer om die gate toe te stop maar Oakdale het die punte met aanskoulike rugby opgestapel. Die samespel tussen voor- en agterspelers van die Oakdale wit truie het elke toeskouer gaande gehad. Dit is moeilik om uitblinkers in die Oakdale span uit te sonder. Louis Nel, die senter van Langenhoven Gimnasium het veral goeie spel gelewer.
Die Oakdale rugbyseisoen lê nou voor met wedstryde teen Outeniqua, Paarl Gimnasium, Paul Roos, Boishaai, Marlow en Boland Landbou.
“Die 2015 eerstespan is 'n span met karakter, goeie balans en met hul voete stewig op die grond. Hulle is goed gekondisioneer en geniet hul rugby,” aldus mnr. André Latsky, skoolhoof van die Hoër Landbouskool Oakdale.
Die tellings lyk soos volg:
o.14A: Oakdale wen 27-5
o.14B: Oakdale wen 29-0
o.15A: Oakdale wen 52-0
o.15B: Oakdale wen 39-0
o.16A: Oakdale wen 52-0
o.19A: Oakdale wen 83-10
o.19B: Oakdale wen 54-0
o.19C: Oakdale wen 54-0
Puntemakers in die o.19A-wedstryd:
Vir Oakdale:
Drieë: Hermanus Botha, Adré Smith, Renaldo Ferreira 2, Nicolus van Eeden , William Eybers 3, Darren Adonis 3, Daine Kannemeyer 2.
Doelskoppe: Darren Adonis 8, Renaldo Ferreira
Vir Langenhoven Gim:
Drie: Louis Nel
Doelskop: Branden Sinden
Strafskop: Branden Sinden
Van Oakdale