Saterdag in Mpumalanga
Saterdag, 12 Mei was ‘n rooi letter dag op die almanak vir Secunda inwoners. Dit was die eerste keer in ses jaar dat die twee buur skole, Hoërskool Secunda en Hoërskool Oosterland mekaar weer op die rugby veld gepak het.
Die hele week al is daar gepraat in koffie winkels en om ontbyt tafels oor wie dan nou hierdie groot stryd gaan oorheers. Daar was ook op facebook baie inskrywings van oud leerlinge oor wie hulle dink gaan wen en hoe graag hulle daar sou wou gewees het om die stryd te kon aanskou.
Spanning was duidelik in die lug Saterdag oggend op ‘n pragtige laat herfs oggend op die Hoëveld van Mpumalanga. Hoërskool Secunda het dan ook ‘n optog gereël waar al die leerlinge eers bymekaar gekom het by die dorp se bekende “eendjie dam”. Leerlinge het van daar af gestap met baniere en gelukbringer figure wat saam gedra is. Daar is heel pad gesing en mens kon die goeie gees aan voel wat daar geheers het.
Om 08.00 het die eerste skote geklap toe die twee skole se 0/14 spanne mekaar gepak het. Dit was ‘n goeie wedstryd wat deur die bekende Kim Smit (voormalige top vroue skeidsregter van SARVU) gehanteer is.
Secunda wen die wedstryd met 36-3. Toe was dit die beurt van die 0/15 spanne. Secunda se span se bynaam is Killers (verwys na Dawid en Goliat verhaal). Die twee spanne dreig nou al twee jaar om mekaar te pak en Saterdag was die kans vir een van die spanne om te wys waar Dawid die wortels gegrawe het. Secunda loop dan reeds teen rustyd met 35-0 voor. Eind telling in die wedstryd 52-0.
Die 0/16 wedstryd was taai en vol opwinding gewees. Seuns het mekaar behoorlik opgekeil en Secunda wen die wedstryd met 16-6.
Om 11.00 was elke gaatjie en sitplek rondom die A veld gevat vir die groot wedstryd van die dag. Almal het geweet-wen jou 1e span sy wedstryd dan maak die ander tellings nie eintlik saak nie. Alle oë was gevestig op die twee tonnels wat ondersteuners gevorm het vir die spanne om deur te draf. Hierdie tonnels was so lank waar hulle moes deur draf, ek dink die spelers was reeds uitasem toe die wedstryd moes afskop.
Daar was reeds jare lank uitgesien na die stryd en Oosterland het as gunstelinge op die veld gedraf. Secunda het ‘n baie jong span met meeste van die seuns nog in Graad 11.
Lank laas is daar soveel plettervatte gemaak en soveel harde fisiese kontak gesien in ‘n skole stryd. Dit was so goed die Blou Bulle en Stormers was aanmekaar. Daar is nie ‘n aks gegee nie en geen genade is betoon nie. Rustyd telling was dan ook net 3-0 in Secunda se guns. Hierdie wedstryd was nog enige een sin om te wen.
Die draai punt in die wedstryd het gekom toe Oosterland se agterlyn die bal laat loop het in die middel van die veld. Secunda se skitter Nr.7 flank, Dylan Erasmus het soos ‘n skim in die nag verskyn en die bal manjifiek onderskep. Almal het gedink die dek verdediging sou hom kon vang maar hy het ongelooflike vaart geopenbaar en hakskene gewys vir die Oosterland verdedigers. Die doelskop deur Danie Venter was suksesvol en skielik was die telling 10-0 in Secunda se guns.
Oosterland moes hierna opvang rugby speel en het baie ongedwinge foute is gemaak. Melding moet ook egter gemaak word van die Secunda se skitter verdediging. Speler wat hier uitgestaan het vir Secunda was hulle senter Fritz Weilbach. Hy het male sonder tal sy spoed gewys en met skitter dek verdediging punte gekeer. Die laaste spyker in die doodskis van Oosterland was toe Corne Venter, vleuel van Secunda gaan afrond het. Doelskop was mis en die telling was toe 15 -0 wat ook so gebly het tot aan die einde van die wedstryd.
Dylan Erasmus, flank van Secunda, het weereens ‘n uitstaande wedstryd beleef en was ‘n knaende doring in Oosterland se vlees.
Secunda se spelers, onderwysers en ondersteuners het na die tyd groot gees geopenbaar deur op die veld twee groot sirkels te vorm. Eerste span spelers met afrigters en mans personeel was in die middelste sirkel. Buitenste sirkel was res van die skool se leerlinge en ouers. Die hoof mnr Lourens Pieterse is aan gesê om in die middel te gaan staan. Die Skool-lied is toe gesing sowel as die bekende Secunda kreet.
Daar moet beslis melding gemaak word van die skitter gees wat geheers het die heel dag tydens al die wedstryde. Deesdae hoor en sien mens soveel gevalle waar daar gevegte tydens skole wedstryde uitbreek. Hier was die spanning en opbou die hele week so groot dat die adrenalien wat Saterdag gevloei het maklik kon oorggegaan het na voorvalle van die bal af.
Beide skole se hoofde, afrigters en leerlinge moet egter geprys word vir die dag se goeie skoon rugby wat gespeel is. Daar was geen voorvalle waar ‘n skeidsregter moes in gryp nie en dit is prysenswaardig. Langs die veld was die mededinging tussen die toeskouers net so straf maar ook daar het almal hulle goed gedra. Mens glo, hoop en vertrou dat hierdie goeie gees jaarliks sal voort duur tussen die buur skole.
Deur Kobus