Secunda klop Hertzog net
Afgelope Saterdag was die afskop van die Mpumalanga groot skole rugby liga. Hoërskool Generaal Hertzog het gasheer gespeel vir Hoërskool Secunda.
Dit was ‘n pragtige vroeg wintersoggend met die son wat reeds vroeg vroeg gewys het dat hy nog nie sy somer gewoontes vergeet het nie.
Die eerste wedstryd op die A veld was een waar oor daar al weke voor die tyd bespiegel is. Die twee skole se 0/15 A spanne het mekaar die stryd aangesê. Beide spanne is bul spanne met puik prestasies agter hulle. Hoërskool Genl Hertzog se span het die afgelope twee jaar die Super reeks oorheers en het dan ook weer vanjaar koning gekraai in die reeks en paar weke terug die beker gewen in die finaal teen Tegnies Tuine van Pretoria.
Hulle het voor Saterdag nog net een nederlaag in 17 wedstryde gely die afgelope twee jaar. Dit was teen einste Hoërskool Secunda laasjaar in die liga met 12-7.
Hoërskool Secunda se span was laasjaar Pukke so wel as Pumas kampioene. Hulle het ook afgelope skoolvakansie die Hansie week te Naboomspruit tussen 20 ander 0/15 spanne gewen. Die tafel was dus gedek vir ‘n grote en die spanning in die lug kon met ‘n mes gesny word.
Hertzog het dan ook soos ‘n pyl uit ‘n geweer weggetrek en was spoedig 12-3 voor na twee drieë. Secunda het egter die laaste gedeelte van die eerste helfte oorheers en druk drie drieë voor rustyd om met lemoeneet tyd stewig in die saal te wees op 18-12. Mens het gedink hulle gaan met die wedstryd weg hardloop soos hulle gespeel het net voor die breuk.
Hertzog het egter ander planne gehad en speel weer skitter rugby met die aanbreek van die tweede helfte. Dit was voor waar soos twee swaar gewig boksers wat mekaar gepeper het met die houe om te sien wie gaan eerste ingee.
Vyf minute voor die einde was Hertzog nog met 22-18 voor. Secunda het egter die druk vol gehou en Mark Jacobs gaan druk die wen drie met skaars drie min oor op die klok. Die doel skop was mis gewees en Secunda wen hierdie naelbyt stryd met 23 -22. Voor waar ‘n voorbeeld van skoon, harde opwindende skole rugby. Beide spanne het egter met hulle skoppe pale toe gesukkel. Secunda het met vier pogings en Hertzog met drie pogings pale toe misluk.
Daarna het Secunda se 0/14 A-span nog ‘n senutergende wedstryd met 17-13 beklink. Die 0/16 A wedstryd is gewen deur Secunda met 31-10.
Hertzog se 0/15 B-span was laasjaar die 0/14 Pumas B liga kampioene maar moes Staerdag egter die knie buig voor Secunda met 41-5.
Die eerste spanne het daarna mekaar gepak en die stof het behoorlik gestaan soos daar genael, geduik en geskrum is. Secunda wen die wedstryd met 24-6.