Secunda laat Lydenburg ly
As mens deesdae verby die HS Secunda se terrein ry kom jy agter dat daar gewoel en werskaf word om die skool se gronde op te gradeer en mens kan sien dat die skool besig is om 'n gedaante verwisseling te ondergaan. Net so op die rugby veld. Die skool se rugby spanne het tot dus vêr vanjaar manjifiek presteer in die Pumas groot skole liga.
Daar is 'n bord by die skool wat praat van HS Secunda as die ontluikende reus, wel mens kom dit beslis agter deesdae as jy hulle sport prestasies aanskou. Die reus begin gestalte kry…
Die afgelope Saterdag was weereens geen uitsondering nie, toe die spanne van die HS Lydenburg dit moes ontgeld. Die koue greep van winter is nou regtig besig om die Hoëveld te bestorm en mens het amper die seuns van Lydenburg jammer gekry wat so vroeg moes speel. Die seuns van Lydenburg is beslis nie gewoond aan sulke koue oggende nie. Hulle geweste dra die manne nog kortbroek en plakkies die hele jaar deur.
Eerste aan die beurt was die junior seuns. Die 0/14 spanne het mekaar om 08H00 gepak op die A veld. Secunda se span speel week na week al hoe beter rugby en mens kan sien hierdie seuns begin mekaar nou te vind as 'n span. HS Secunda wen dan ook die wedstryd redelik gemaklik met 43-0.
Daarna was dit die meer harde baard jong manne se beurt toe die 2de spanne mekaar getakel het. Wedstryd was kliphard en geen genade is betoon nie. Secunda wen die titaniese stryd met 8-7.
Om 10h00 het die 0/15A spanne mekaar beet gepak en beide spanne was tot en met Saterdag nog onoorwonne in die liga. Wedstryd het gesukkel om aan die gang te kom met beide spanne wat redelik baie foute begaan het. Secunda tree as wenners uit die stryd en wen met 24-0. Secunda se 0/15B span wen met 48-0.
Aan die begin die rugby seisoen was die 0/16 rugby span se afrigter, Mnr Dean du Randt redelik bekommerd oor sy span se kanse vanjaar aangesien hy verskeie spelers verloor het as gevolg van ouers wat verhuis het en lang termyn beserings. As mens egter na sy span se vertonings kyk tot op hede, dan was sy bekommernis verniet. Hierdie span speel ongelooflike totale rugby en hulle samespel is 'n lus vir die oog. Hulle agterlyn is seker een van die beste voorbeelde van vernuf en spoed gekombineer. Hulle wen dan ook met 45-3.
Die eerste spanne het gereed gemaak om op die veld te gaan en die gebruiklike tonneltjie van die res van die leerlinge was in afwagting op die trots van die twee skole om te verskyn. HS Lydenburg se jong manne het eerste op gedraf en mens kon sien daar was 'n paar ysters onder hulle. Die nommer vier slot was 'n jong reus wat sekerlik naby aan twee-meter in sy sokkies staan.
Joe Niemand se stem het oor die luidsprekers begin sing: "Ek sal nie bang wees nie." Secunda se jong manne het onder die klank van hierdie inspirerende lied op die veld gehardloop.
Mnr Anton Booysen die skeidsregter het op sy fluitjie geblaas om die begin van die wedstryd aan te dui en van meet af het die hare spreekwoordelik gewaai soos daar geduik en gestoei is om besit van die bal. Wedstryd was vol spanning, drama en aksie. Secunda se eerste span wen die wedstryd met 15-12. Min mense sou nog naels oor gehad het na die stryd.
Secunda se 0/14A, 0/15A en B, 0/16A en 1ste spanne is nog onoorwonne na drie rondtes van die Pumas groot skole liga. Eerskomende naweek speel Secunda weg teen HS Bergvlam in Nelspruit.
Deur Kobus