Get Newsletter

Baie koshuis aksie in Bloem!

Die Steinhoff Kovsie-rugby-koshuisliga het verlede Vrydagaand byna met ‘n groot opskudding begin.

Armentum het in die openingsronde net-net met Veritas klaargespeel (19-15).

Veritas het die wedstryd in sy hand gehad, maar dit letterlik en figuurlik laat glip.

Met speeltyd reeds verstreke, het Armentum se binnesenter, Jannie Myburgh, aangelê pale toe vir ‘n strafskoppoging wat die uitslag van die wedstryd sou bepaal.

Die skop was regs verby en Veritas het gelyk of hy ‘n onverwagse 15-14-sege oor die wenners van die Steinhoff-Koshuiskampioenskap behaal het.

Maar Veritas se heelagter, Marnus Marais, het in sy poging om die bal dood te druk gegly en Armentum se Kobus Neethling (regtervleuel) het deurgenael en die bal onder Marais se neus gedruk vir die wendrie wat Armentum uit die kloue van ‘n loesing laat ontsnap het.

Hoewel Veritas aangevoer het dat Marais wel die bal doodgemaak het, is die drie (onder baie omstredenheid en ontevredenheid onder Veritas-spelers) aan Armentum toegeken.

Veritas is deurgaans in die wedstryd gehou deur George Whitehead (losskakel) se skopskoen.

Binnesenter en kaptein, Riaan Landman, was so amper sy span se held toe hy tien minue voor die einde ‘n skepskop deur die pale gejaag het om Veritas ‘n 15-14 voorsprong te gee.

Die wedstryd het min hoogtepunte opgelewer en die nat toestande het aanskoulike rugby in die wiele gery.

Baie foute is aan albei kante gemaak en die agterlyne moes met krummels balbesit tevrede wees.

Puntemakers: Armentum 19 (6), Veritas 15 (3). ARMENTUM – Drieë: Louis Claasen, Kobus Neethling. Strafdoele: Jannie Myburgh 3. VERITAS – Strafdoele: George Whitehead 4. Skepdoel: Riaan Landman.

* JBM Hertzog het Vrydagaand sy seisoen op ‘n hoë noot afgeskop met ‘n naelskraapse sege (13-11) oor sy aartsvyand, Vishuis.

‘n Wedstryd wat deurgaans wipplank gery het, is uiteindelik met ‘n skepdoel (van bykans 40 meter) deur JBM se losskakel, Nakkie Holtzhausen, beklink.

Holtzhausen het met hierdie poging (teen ‘n sterk wind) sy span die voortou laat neem met slegs 15 minute speeltyd oor.

Ongeag ‘n sterk eindpoging deur Vishuis het JBM vasgeklou vir ‘n oorwinning.

Vishuis was eerste om punte aan te teken danksy ‘n strafdoel deur sy haker Cobus van der Westhuizen.

JBM het geantwoord met ‘n drie deur Carel van Aswegen (loskopstut) wat ná ‘n sterk rolmaalbeweging oorgeduik het.

JBM het ook die laaste sê in dié helfte gehad toe sy regtervleuel, Rubert Vermaas, die steelkant goed uitgebuit en 50 meter genael het vir ‘n drie in die hoekie. Holtzhausen het sy tweede doelskop gemis en het soos sy eweknie van Vishuis (van der Westhuizen) ‘n slegte dag met die skopskoen beleef.

Holtzhausen het met ‘n verdere twee strafskoppe skeef gekorrel, terwyl sy spanmaat Chris¬tiaan Reynolds ook een gemis het.

Vishuis het die tweede helfte sterk teruggeveg met ‘n vyfpunter deur Stefan Raubenheimer en daarna ‘n strafdoel deur Van der Westhuizen wat hom ‘n 11-10-voorsprong besorg het.

Ná ‘n vlaag aanvalle waarin die wenspan ook byna gaan druk het, het Holtzhausen, tot groot vermaak van die JBM-ondersteuners, sy derde skepdoelpoging van die aand deur die mikke laat seil.

Hy het in die eerste helfte twee maal gemis.

Vermaas het minute vroeër byna sy tweede drie gaan druk, maar kon nie ‘n rolskop in Vishuis se doelgebied toeval nie.

Hoewel Vishuis die oorhand in die skrums gehad het, het swak afronding en dissipline hulle in die steek gelaat.

Vishuis het minute voor die einde ‘n laaste geleentheid gehad om die voorsprong terug te kry, toe ‘n strafskop binne trefafstand aan hom toegeken is.

Vishuis se kaptein, Gerhard Meyer, het besluit om kantlyn toe te skop om ‘n laaste aanval te loots.

Die lynstaangooi was egter windskeef en Vishuis se laaste kans op ‘n sege ook daarmee heen.

Geleenthede vir drieë was daar maar min met albei spanne wat uitstekend op die verdediging was.

Veral Vishuis se nuweling-flank Daniël Muller was goed op dekverdediging, terwyl Waldo Krogh (binnesenter) ook rotsvas op verdediging was.

Vir die wenspan het sy vleuel Jean Goosen veilig onder die hoë bal vertoon.

Puntemakers: JBM Hertzog 13 (10), Vishuis 11 (3). JBM – Drieë: Carel van Aswegen, Rupert Vermaas. Skepdoel: Nakkie Holtzhausen. VISHUIS – Drie: Stefan Raubenheimer. Strafskoppe: Cobus van der Westhuizen 2.

* In nog ‘n koshuisliga-wedstryd Saterdagoggend het die sterk UV-o.19-span Heimat 30-11 geklop. Die wenspan was teen lemoentyd reeds 18-6 voor.

Die universiteit van die Vrystaat (UV) se o.19-span neem slegs in die eerste ronde van die koshuisliga deel, ter voorbereiding vir die nasionale o.19-kompetisie waarin hulle later deelneem. Koshuisspanne kan ligapunte teen hulle behaal, maar punte vir die o.19’s tel vir niks.

Die UV-span was Saterdag eenvoudig fikser en vinniger as die nuweling in die koshuisliga en het Heimat in die eerste 20 minute flou gehardloop en sy swak punte (sy agterlyn se gebrekkige verdediging) deeglik blootgelê.

Hoewel Heimat se voorspelers by tye goeie spel opgedis het (en selfs die oorhand gehad het), kon hy dit nie genoeg doen om die o.19-manne onder druk te plaas nie.

Heimat, wat nege spelers in sy geledere het wat verlede jaar vir Reitz in die koshuisliga gespeel het, het verlede kwartaal twee opwarmingswedstryde teen klubspanne gehad, maar het Saterdag vinnig agtergekom dat hulle nou in ‘n baie strawwer liga speel.

Party mense reken die UV se koshuisliga is die sterkste in die land.

Nietemin is daar heelwat positiewe aspekte waarop Heimat kan voortbou.

Lood Buchner (voorry) het stewig in die skrums gestaan en goeie werk in die vastelos gelewer, terwyl heelagter Poeksie Nel agterlangs uitgeblink het.

Puntemakers: UV-o.19 30 (18), Heimat 11 (6). HEIMAT – Drie: Maurice Ambrose. Strafdoele: Mindus Crous 2.

Deur Ruan Bruwer

ADVERTISEMENT

Join free

Yokohama Canon Eagles vs Toshiba Brave Lupus Tokyo | Japan Rugby League One 2024/25 | Full Match Replay

Edinburgh vs Glasgow | Celtic Challenge 2024/25 | Match Highlights

Boks Office | Episode 31 | Investec Champions Cup Review

Global Schools Challenge | Day 2 Replay

The Backyard Bunch | The USA's Belmont Shore

AUSTRALIA vs USA behind the scenes | HSBC SVNS Embedded | E04

South Africa v France | HSBC SVNS Cape Town 2024 | Men's Final Match Highlights

Two Sides - Behind the scenes with the British & Irish Lions in South Africa | E01

Write A Comment