Get Newsletter

Heimat wil stem deeglik dik maak

Die nuweling in vanjaar se Steinhoff K1-liga, Heimat, het reeds gewys hy gaan nie net die getalle opmaak nie, maar het ook die beker in die oog. Met seges oor Armentum en Veritas mik Heimat hoog in die rugbyliga.

Pieter van der Berg, Heimat-primarius en kaptein van die eerste span, sê al staan hulle nie meer as Reitz bekend nie, het min dinge verander.

“Ons speel steeds in dieselfde truie en ons tradisies is ook nog dieselfde. Die enigste verskil is maar net dat ons ‘n ander naam en ander blyplek het,” het hy verduidelik.

Hoewel Heimat so veel as 14 nuwelinge in die eerste span het, is van der Berg steeds baie positief oor sy span se kanse. Baie van verlede jaar se Reitz-span het in 2008 klaargemaak.

“Ek dink ons het ‘n goeie kans. Ons mik om weer die eindstryd van die kompetisie te haal. As jy eers daar is, kan jy nooit voorspel wat gaan gebeur nie. Kyk maar na verlede jaar se eindstryd.”

Hy verwys na die wedstryd waarin Heimat 10-11 teen Armentum vasgeval het en alles op dié aand vir hulle verkeerd geloop het.

Volgens hom is so agt van verlede jaar se spelers darem nog vir Heimat beskikbaar.

“Ons is maar ‘n baie jong span en volgende jaar gaan daar slegs twee of drie van die spelers weg, so ons behoort dan ‘n krag te wees.

“Heimat gaan ook volgende jaar groter word, wat uiteraard tot ‘n groter spelerskorps sal lei.”

Van der Berg (agtsteman), Maurice Ambrose (flank) en Ruan Dreyer (heelagter) is die mees ervare spelers in die groep.

“Ek dink Arné Grobbelaar (agtsteman – bo, regs) en André Malherbe (senter) is die twee spelers wat ‘n groot verskil kan maak wanneer hulle in die tweede ronde van die liga vir ons beskikbaar sal wees.”

Hulle doen nou diens vir die UV-spanne.

Hy sê die verwagtinge in Heimat sal maar altyd hoog wees. “Reitz is mos maar ‘n rugbykoshuis. Ons sege oor Armentum (twee weke gelede) het reeds die verwagtinge opgejaag.”

Heimat se sterk punt is sy verdediging. Teen Armentum moes hy ‘n groot aantal duikslae uitvoer omdat Armentum die balbesit oorheers het.

“Ons het nie een drie teen hulle afgestaan nie,” sê Van der Berg trots.

“Ons het weer lekker spoed agterlangs, en met ‘n beweeglike pak voorspelers sal ons die bal wil rondgooi.” Hoewel Heimat se voorspelers ietwat lig in die broek is, het hy teen Veritas twee goeie drieë van ‘n dryfmaalbeweging gedruk.

Buitesenter Nielbert Kitching is ‘n speler om dop te hou. Hy is ‘n sterk senter wat sy pad na die doellyn ken.

Aan die debietkant het Heimat nie vanjaar die diepte soos waaraan Reitz oor die jare gewoond was nie. Sy skrums kan ook nog ‘n probleem wees, sou hy teen ‘n baie sterker skrum te staan kom.

Van der Berg sê Armentum behoort weer die sterkste mededinging te verskaf. “Hulle is altyd sterk en kan nooit onderskat word nie.”

Reitz het die K1-liga reeds ses keer in die nuwe millennium gewen insluitende drie jaar op ‘n streep (2005-2007).

Die groep vir die eerste ronde is:

Voorspelers: Pieter van der Berg, Maurice Ambrose, Danie le Roux, Conrad Groenewald, Nelis Eksteen, Henno van der Merwe, De Wet Dreyer, Ivan Fourie, Riaan Laung, Ryno Schoeman, Hansie Moolman en Jan Botha.

Agterspelers: Ruan Dreyer, Daniël Krynauw, Nielbert Kitching, Ernst Boshoff, Mindus Crous, Zehan Neethling, JP du Plessis, Sarel Pretorius, Francois Crause, Neethling Uys, Braam van Niekerk.

Deur Ruan Bruwer

ADVERTISEMENT

Join free

Japan v USA | Extended Highlights | Asahi Super Dry Pacific Nations Cup

Tonga v Fiji Extended Highlights Asahi Super Dry Pacific Nations Cup

South Africa Women vs Barbarians Women | Full Match Replay

Samoan ‘FREAK ATHLETE’ taking rugby by STORM | No Pads All Studs | Episode 2 Part 1

FILTHY tackles by Islander GIANTS in the PNC | No Pads All Studs | Episode 2 Part 2

Angleterre v France - Match de préparation au WXV - Replay du match

Boks Office | Episode 20 | All Blacks Preview

2024 Pacific Combine

Write A Comment