Get Newsletter

Hertzog IS die span om te klop!

JBM Hertzog se eerste rugbyspan het Vrydagaand gewys hulle is dié span om in vanjaar se Steinhoff Koshuisliga te klop.

Hertzog het in ‘n spannende kragmeting die vormspan tot dusver in die kompetisie, Heimat, 10-7 geklop.

JBM het nou al drie sy wedstryde teen mede-koshuisspanne gewen. Hy het nog net teen die Universiteit se O19-span vasgeval.

Vrydagaand is die soveelste wedstryd in vanjaar se liga in die laaste minuut beslis toe JBM se veelsydige agtsteman, Roelof Joubert, gaan druk het vir die wenpunte.

JBM het Heimat heelaand in die skrums vermorsel en ‘n klompie vaskoppe gehaak.

Nietemin het Heimat nooit gaan lê en so byna die wedstryd teen die verwagtinge in gewen.

Sy vleuel Daniël Krynauw het vier minute voor die einde gaan druk, wat gelyk het of dit die wendrie was.

Daar was selde ‘n werklike kans om ‘n drie aan te teken met albei spanne rotsvas op die verdediging.

JBM het sy lynstane puik afgewissel deur van vier springers gebruik te maak. Heimat het weer ‘n paar kanse gehad om die telling te laat gelyk trek, maar sy heelagter Mindus Crous het met drie pogings pale te gemis.

Sy broer, Francois, het ook een links verby die pale getrek.

Maar JBM het laaste gelag. ‘n Vinnige vierdefase-bal is uit na Joubert, wat met nog twee spanmaats aan sy buitekant, oorgeduik het vir die wendrie sonder dat ‘n hand op hom gelê is.

Puntemakers: JBM 10 (3), Heimat 7 (0). JBM – Drie: Roelof Joubert. Doelskop: Danie Strauss. Strafdoel: Strauss. HEIMAT – Drie: Daniël Krynauw. Doelskop: Mindus Crous.

Vishuis het Karee sy derde nederlaag van die kompetisie toegedien met ‘n onoortuigende 25-17-sege Vrydagaand.

In ‘n teleurstellende wedstryd wat nooit werklik momentum kon kry weens talle foute nie, het Vishuis Karee se foute behoorlik uitgebuit.

Een só ‘n geleentheid het op Dries Ludeke (vleuel) se tweede drie van die aand uitgeloop toe hy 80 meter genael het van afgeneemde besit.

Karee het homself telkens in die voet geskiet deur strafskoppe op die aanval af te staan.

Matthee van Vuuren, Karee-senter, het ‘n paar keer Vishuis se lyn gebreek, maar gebrekkige afronding het moontlik punte in die wiele gery.

Karee het ook probleme in die lynstane ondervind.

Puntemakers: Vishuis 25 (8), Karee 17 (7). VISHUIS – Drieë: Dries Ludeke 2, Gerhard Meyer. Doelskoppe: Cobus van der Westhuizen 2. Strafdoele: Van der Westhuizen 2. KAREE – Drieë: Jaco Carstens 2. Doelskoppe: Carstens. Strafdoel: Carstens.

Saterdagoggend was dit eenrigtingverkeer vir die sterk UV Onder-19 span toe hy Veritas 49-7 afgeransel het.

Hoewel die wenspan vroeg in die wedstryd baie onnodige hanteerfoute gemaak het, kon Zandré de Bruin (senter), AJ Coertzen (regtervleuel) en Jumba Ulenga (linkervleuel) steeds die drieë inryg om ‘n onuitwisbare voorsprong op te bou.

Reg van die afskop vir die tweede helfte het De Bruin maklik oorgedraf vir sy tweede drie en op 35-0 was die wind uit Veritas se siele.

Veritas het egter hard gewerk vir sy enigste drie, deur agtsteman Gerrit Smits, van die kragmeting toe die O19s met slegs 14-man gespeel het.

Puntemakers: UV Onder-19 49 (28), Veritas 7 (0). UV O19 – Drieë: Zandré de Bruin 2, Jumba Ulenga 2, AJ Coertzen, Nico Scheepers, Fanie van der Walt. Doelskoppe: Eric Colyn 7. VERITAS – Drie: Gerrit Smits. Doelskop: Riaan Landman.

Kovsies Koshuisliga punteleer:
1. Heimat 5, 3, 15
2. Vishuis 4, 2, 12
3. JBM 4, 3, 12
4. Armentum 4, 1, 8
5. Karee 4, 0, 2
6. Veritas 4, 0, 1

Kovsies Koshuisliga top puntemakers:
Mindus Crous (Heimat) – 38 punte
Cobus van der Westhuizen (Vishuis) – 36
Jaco Carstens (Karee) – 25
Dries Ludeke (Vishuis) – 25
Roelof Joubert (JBM) – 22
Jannie Myburgh (Armentum) – 20

Kovsies Koshuisliga top drie-drukkers:
Dries Ludeke (Vishuis) – 5 drieë
Jaco Carstens (Karee) – 3
Pieter van der Berg (Heimat) – 3
Johan Bruno (Vishuis) – 3
Daniël Krynauw (Heimat) – 3

Deur Ruan Bruwer

ADVERTISEMENT

Join free

Japan v USA | Extended Highlights | Asahi Super Dry Pacific Nations Cup

Tonga v Fiji Extended Highlights Asahi Super Dry Pacific Nations Cup

South Africa Women vs Barbarians Women | Full Match Replay

Samoan ‘FREAK ATHLETE’ taking rugby by STORM | No Pads All Studs | Episode 2 Part 1

FILTHY tackles by Islander GIANTS in the PNC | No Pads All Studs | Episode 2 Part 2

Angleterre v France - Match de préparation au WXV - Replay du match

Boks Office | Episode 20 | All Blacks Preview

2024 Pacific Combine

Write A Comment