Maties Koshuisberigte: Al die nuus
Daar was weer baie opwindinde rugby op Stellenbos – in Steinhoff Koshuisrugby aksie – gewees hierdie naweek; al was dit Vrydag die 13de!
DIS MOS HUIS RUGBY…
Deur Ryno Laubscher
Die uitslag van hierdie wedstryd was van kardinale belang vir beide spanne.
Dit sou bepaal watter span in die top vier posisies inskuif en die ander ene sal uitskuif. Huis Marais het weer hul wen spel ten toon gestel wat hulle vir die eerste vyf wedstryde van die seisoen bo-aan die punteleer gevestig het.
Die rustyd telling was nog naelskraaps 0-0, maar in die tweede helfte het Huis Marais die botoon aangevoer en die wedstryd 15-0 geseevier.
Dit was veral Huis Marais wat die tempo van die wedstryd bepaal, het maar in die eerste helfte gesukkel het om af te rond na menige besoeke aan PSO se doellyn.
Die halftyd telling was dus nog 0-0. Binne enkele sekondes na die afskop van die tweede helfte het Huis Marais se agsteman Leroi de Wet onder die pale gaan kuier, en die drie is verdoel deur Ockert Erasmus.
Kort na die eerste drie, het skrumskakel en kaptein JJ Kriel ‘n perfekte skoppie oor die losgemaal gestuur wat toe opgeskep is deur binne senter Ockert Erasmus wat die bal ander kant PSO se lyn gaan neersit het. Die telling was toe 12-0 vir Huis Marais.
PSO het toe uitstekende verdediging gewys om menigde aanvalle op hulle doellyn te stuit. PSO het egter op die kwartlyn voor hulle pale ‘n strafskop afgestaan wat Ockert Erasmus deur die pale gejaag het en die telling 15-0 gemaak het.
Die eindtelling was 15-0 vir Huis Marais.
BLOUTREIN WEN DERBY
Deur Christo Viljoen
Die Bloutrein van Dagbreek het Vrydagmiddag hul bure, Majuba, oortuigend geklop in die twee koshuise se jaarlikse derby, toe hulle met 38-3 gewen het.
Majuba het die fout gemaak om hul opponente voorlangs te probeer aanvat en het sleg tweede gekom teen die groot Bloutrein pak. Die wedstryd het lekker gevloei en die manne van Dagbreek het die bal lekker rondgegooi. Die Bloutrein agterspelers het ook gewys hoe ‘n agterlyn behoort te speel en met slim agterlynbewewings en vlink hande ‘n paar aanskoulike driee gedruk.
Soos van enige derby verwag kan word, was daar ‘n hele paar groot duikslae en daar is ‘n paar manne wat vir die volgende week nie te maklik gaan loop nie. Die Bloutrein het reeds na 20 minute in die eerste helfte hulle bonuspunt verdien met hulle derde drie. Met halftyd was die manne van die huis van roem en faam reeds 26-3 voor en het nog twee verdere driee gedruk in die tweede helfte vir ‘n finale telling van 38-3.
Hierdie wen plaas die Bloutrein vir die eerste keer die jaar bo aan die puntelys en na ‘n lys van goeie vertonings die laaste paar weke, is daar min wat kan stry dat hulle nie verdien om daar te wees nie.
EENDRAG TEEN ELSENBURG
Deur J Uys
Eendrag 1 en Elsenburg 1 het kragte gemeet. Die laaste keer wat hierdie twee spanne teen mekaar gespeel het, het Elsenburg die botoon gevoer en gemaklik gewen 32-16.
Vrydag was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Aanvanklik was albei spanne skrikkerig om kanse te waag. En dit was Elsenburg wat eerste ‘n gaping in die moedige Eendrag verdedeging kon vind en so ook die eerste punte van die wedstryd aanteken. Eendrag het geantwoord met ‘n strafskop. Daar was ‘n hewige stryd om balbesit veral in die vaste fasette waar die manne mekaar behoorlik die stryd aangese het. Nog twee strafskoppe aan albei kante het die halftyd telling te staan gebring op 8-6.
In die tweede helfte het beide spanne min of meer dieselfde spelpatroon gehandhaaf. Elsenburg het weer eerste punte aangeteken in die vorm van ‘n onverdoelde drie. Met die telling op 13-6 was toeskouers in vir ‘n opwindende laaste tien minute. Eendrag het balbesit behou en behoorlik geboer op Elsenburg se doellyn.
Na ‘n goeie agterlyn beweging het Sterick Gerber (vleuel) afgerond en ‘n mooi drie vir Eendrag gedruk. Met die telling op 13-11 en die sirene wat in die agtergrond blaas het, het Eendrag verdoel en daarmee ‘n gelykop uitslag verkry.
Die wedstryd was in goeie gees gespeel en op die ou einde van die dag het rugby geseevier!
HELDERBERG TEEN WILGENHOF
Deur Johan Mönnig
Vanaf Helderberg se afskop was Wilgenhof se eerstespan baie aggresief op die bal en hulle het hulle goed van hul taak gekwyt om die begin van die 13 Augustus wedstryd te domineer.
Helderberg is met min opsies gelaat en het twee strafskoppe afgestaan in vele pogings om die wedstryd te draai binne die eerste helfde van die spel. Na die tweede strafskop van Wilgenhof, was die bal terug gewen en ‘n strafskop is toegeken aan Helderberg wat, ten danke aan Edgar Fourie, die telling 6-3 te sluit slegs enkele minute voor die halftydfluitjie.
In die tweede helfde was daar egter meer aksie van albei kante en Wilgenhof het vroeg na die ruskans hul eerste drie gedruk gevolg deur ‘n suksesvolle doelskop.
Die Helderberg span het hulself nie deur die telling laat afsit nie en nog twee sukselvolle strafskoppe het die telling 13-9 vir Wilgenhof gelaat. Weens ‘n hoë duikslag deur Micheal Ford (heelagter), is ‘n geelkaart toegedien en nog ‘n suksesvolle strafskop aan Wilgenhof gegee. Met goeie bydrae van Vaughn Marlow vars vanaf die bank, is Helderberg se eerste drie gedruk deur Johan Kamper gevolg deur ‘n onsuksesvolle doelskop van Fourie weens die hoë druk om die telling gelyk te stel.
Die ondersteuners was op hierdie punt op hul tone toe die laaste strafskop aan Helderberg toegedien is, waarvan Edgar kortwerk gemaak het om die bal oor te sit en die telling 17-16 vir Helderberg te maak ongeveer tien minute voor die eindfluitjie. Baie goeie verdedigende rugby is gespeel en Helderberg het hul doellyn beskerm tot die fluitjie geblaas het.
HELSHOOGTE TEEN KOLONIESHOF
Deur Gerbrand Kriel
Vrydag, 13 Augustus het twee van Stellenbosch se koshuise mekaar aangepak op die rugbyveld.
In ‘n wedstryd wat gedomineer is deur aanslane en vorentoe aangee het die voorspelers vir die grootste deel van die wedstryd geskrum. Helshoogte het egter hul kanse gebruik en in die eerste helfde reeds twee onbeantwoorde drieë gedruk.
Dit het veroorsaak dat Kolonieshof teen halftyd met 14 teenoor 0 punte agter was. In die tweede helfde het Kolonieshof egter meer balbesit gehad, maar met swak besluite en verdedigingslyne wat nie gebreek kon word nie kon hul egter nie die doellyn oorgaan nie.
Die bal wat net nie van hand tot hand kon gaan nie en twee geelkaarte aan Helshoogte het veroorsaak dat hul nooit regtig aan die gang kon kom nie.
Goeie individuele spel van verskeie spelers het veroorsaak dat hul nog twee drieë in die tweede helfde kon aanteken wat hul weereens ‘n bonus punt gegee het. Alhoewel Helshoogte die wedstryd ver gewen het was dit nie ‘n weerspieëling van die wedstryd nie.
Beide spanne het herhaaldelike hanteringsfoute gemaak en die wedstryd kon net nie aan die gang kom nie. Die finale telling was 26-0 in die guns van Helshoogte.