Get Newsletter

Cheetahs krag vir Shimlas teen Pukke?

Die Shimla-rugbyspan het drie Cheetahs Curriebeker-spelers nadergetrek om hom vir Saterdag se 67ste intervarsity-kragmeting teen die Pukke te versterk.

Die wedstryd word op Olënpark in Potchefstroom beslis.

Daar word gehoop dat Philip Snyman (senter), Gerrie Odendaal (skrumskakel) en heel moontlik Kobus Calldo (stut) die Vrystaters meer slaankrag sal gee om die Puk op sy agterplaas te klop.

Die Vrystaters kon in 2004 (49-31) laas ‘n sege oor Pukke behaal en in 1997 (42-0) laas ‘n intervarity-wedstryd in Potchefstroom wen.

Jaco Swanepoel, Shimla-afrigter, sal hoop hulle kan die nodige vonk verskaf. Hy gee selfs toe sy span reis na Potchefstroom as die nie-gunsteling.

“Ons sal ‘n haas uit die hoed moet pluk as hulle wil klop, maar ons het niks om te verloor nie.

“Niemand gee ons ‘n kans om te wen nie en onthou, die bal is nie rond nie en enigiets kan op die dag gebeur,” het hy verduidelik aan varsitycup.co.za.

Shimlas was verlede jaar ook geen kans gegun om die Puk te klop nie. Uiteindelik het dit ‘n allemintige 50m-skepdoel van Devan Eckhardt (Puk-losskakel) geverg om die Noordwesters 21-20 te laat seëvier.

Swanepoel verwag ‘n harde stryd en sê die Puk is veral ‘n moeilike span om tuis te klop.

“Hulle is ‘n gedugte eenheid en het baie kontinuïteit regdeur die jaar,” sê hy.

“Dit is boonop dieselfde span wat vroeër vandeesmaand die Ussa-week (Universiteit-sport Suid-Afrika) gewen het. En hulle is nog ‘n groter uitdaging op hul tuisveld. Maar ek is positief ons sal ons man voor kan staan.”

Volgens hom is ‘n intervarsity vir die meeste spelers die grootste kragmeting van die jaar: “Veral vir die studente wat gereeld vir die Shimlas of Irawas uitgedraf het, beteken hierdie wedstryd geweldig baie.”

Die spanne is:

Pukke: 15 Theuns Kotzé, 14 Willem Barnard, 13 Wouter Watermeyer, 12 Cecil Dumond, 11 Johannes Seerane, 10 Marcel du Toit, 9 Janis Terblanché, 8 Willem van der Wal (k), 7 Savva Nel, 6 Jaco Lötter, 5 Bones Robbertse, 4 Dirco Rautenbach, 3 Stephan Bezuidenhout, 2 Stoffel Duvenage, 1 Jaco Koch.
Plaasvervangers: 16 BW van Dyk, 17 Dewald Coetzee, 18 JP Potgieter, 19 Nelis Nel, 20 Chris Erasmus, 21 Niell Jacobs, 22 Kempie Rautenbach.

Shimlas: 15 Reinhardt Erwee, 14 Beast Ndwandwa, 13 Philip Snyman, 12 Bertus Bester, 11 Shagan Windvogel, 10 Jaco Colyn (k), 9 Gerrie Odendaal, 8 Arné Grobbelaar, 7 Willie Britz, 6 André Tredoux, 5 Sybrand Mostert, 4 Philip Steyn, 3 Vaatjie Koorsen, 2 JC van Wyk, 1 Kevin Stevens/Kobus Calldo.
Plaasvervangers: 16 Drew van Coller, 17 Ian Potgieter, 18 Kallie Erasmus, 19 Boer van Niekerk, 20 George Whitehead, 21 Tiaan Aucamp, 22 Roelof Steyn.

Skeidsregter: Ben Crouse

Deur Ruan Bruwer

ADVERTISEMENT

Join free

Japan v USA | Extended Highlights | Asahi Super Dry Pacific Nations Cup

Tonga v Fiji Extended Highlights Asahi Super Dry Pacific Nations Cup

South Africa Women vs Barbarians Women | Full Match Replay

Samoan ‘FREAK ATHLETE’ taking rugby by STORM | No Pads All Studs | Episode 2 Part 1

FILTHY tackles by Islander GIANTS in the PNC | No Pads All Studs | Episode 2 Part 2

Angleterre v France - Match de préparation au WXV - Replay du match

Boks Office | Episode 20 | All Blacks Preview

2024 Pacific Combine

Write A Comment