Pukke soek nuwe bloed
NWU-Pukke se hoofafrigter, Rudy Joubert, hoop dat sy nuwelinge sal opmaak vir die verliese wat die Potchefstroomse Varsitybekerspan in die afseisoen gely het.
Pukke moet vanjaar sonder hul besielende agtsteman en kaptein Willem van der Wal, stut Jaco Koch, slot Grant le Roux, losskakel Marcel du Toit en blitsige vleuel Lolo Yanga klaarkom – wat gewis ‘n groot leemte in Joubert se span gaan agterlaat.
Van der Wal, veral, het sedert die aanvang van die Varsitybekerreeks ‘n sleutelrol vir die Pukke vervul en is laasjaar as die Voorspeler van die Toernooi in die FNB Varsitybekerreeks aangebied deur Steinhoff International, aangewys. Hy het sy span tot in die einstryd geneem, waar hulle naelskraap met 6-11 teen Maties verloor het.
“Jaco moes ongelukkig weens ‘n ernstige nek-besering uittree,” het Joubert aan varsitycup.co.za gesê.
“Om Jaco, Willem en Grant te verloor is ‘n groot slag vir ons, aangesien hulle almal baie ervare voorspelers is…
“Marcel het te oud geword vir die toernooi en Lolo het hom by UJ aangesluit. Dit beteken dat ons agterlangs ook baie ervaring verloor het, maar dit is een van die uitdagings wat die Varsitybekerreeks so ‘n moeilike toernooi maak – jy moet elke jaar van voor af spanbou.”
Daardie terugslae tersydegestel, Joubert het goeie werwing in die afseisoen gedoen – met die losvoorspeler Siya Ndaka (van Natal), die Jacobs-tweeling (van Shimlas), losskakel Dauw Steyn (College Rovers), heelagter SP Marais (Boland Onder-21) en die blitsige Ikey Tiger Dane Johnson wat almal in 2010 hulle Varsitybeker-rugby vanuit Potfstrooom gaan speel.
“Daar is ‘n klompie talentvolle spelers waaroor ons baie opgewonde is,” het Joubert gesê.
“Hopelik het ons die gapings toegemaak wat gelaat is deur beseerde spelers, daardie manne wat te oud geword het en die wat na ander spanne aangeskuif het.
“Die reeks gaan gewis nie makliker word nie en hopelik kan ons, met die groep wat ons het, vir ons ‘n plek in die halfeindstryd oopspeel.”
Die Pukke begin hul 2010 Varsitybekerreeks-aanslag wanneer hulle op Maandag, 1 Februarie, teen die Tukkies te staan kom – die tweede wedstryd wat daardie dag op die LC de Villiers stadion plaasvind.
Die Pukke het die afgelope Saterdag interne proewe gespeel, en sal volgende Saterdag, 23 Januarie, in ‘n voorseisoen-wedstryd teen die Griffons te staan kom.