Get Newsletter

Tukkies se eie skerpskutter

Hy word eers op 3 Junie 20 jaar oud, maar Justin van Staden is sy melkbaard ten spyt reeds ‘n voorbeeld vir baie ander, meer senior spelers oor hoe om die grootheid van die oomblik te hanteer.

Van Staden het reeds verlede jaar sy debuut vir FNB Tuks in die Carltonbeker-reeks gemaak, maar eers teen FNB UJ op 8 Februarie 2010 sy eerste proe van FNB Varsitybeker-rugby gesmaak.

Eergister (15 Februarie) het hy ‘n verstommende vertoning as stelskopper gelewer deur met al tien sy pogings pale toe te slaag in FNB Tuks se wedstryd teen die FNB TUT Vikings. Sy bydrae van 27 punte (sewe strafdoele en drie doelskoppe) was deurslaggewend in FNB Tuks se eerste sege van die seisoen (42-30).

“Ek voel bevoorreg dat ek met my skopwerk ‘n verskil kon maak, want enige stelskopper wat sy sout werd is, stel baie hoë standaarde aan homself. Om met 10 uit 10 skoppe te slaag (die een van binne sy eie halfgebied) is dus baie sielsbevredigend.”

En dié 100% trefrekord was nie ‘n vloekskoot nie. Verlede jaar, toe Van Staden vir die Blou Bulle se o.19-span gespeel het, het hy in die jong Ligbloues se laaste wedstryd van die seisoen met al agt pogings pale toe geslaag.

Snaaks genoeg bestee Van Staden nie baie tyd aan sy skopwerk nie. Kenners meen dis omdat hy ‘n natuurlike aanleg het en sy gemaklike en ontspanne skopstyl een van die groot redes vir sy sukses is.

Van Staden voel gevlei dat FNB Tuks se hoofafrigter, Freddie Grobler, na hom verwys as ‘n speler met die spreekwoordelike BMT (Big Match Temperament).

“Ek dink nie ‘n mens kan afgerig word om onder druk kop te hou nie. Dit is eerder tot watter mate jy in jouself glo wat sal bepaal hoe jy in hoëdruk-situasies die mas opkom.”

Van Staden, wat aan die Hoërskool Merensky in Tzaneen gematrikuleer het, sê hy sal dit verkies om heelagter te speel, maar “ek speel waar ek gekies word”. Teen FNB TUT het hy op vleuel uitgehelp.

Oor FNB Tuks se vertoning teen FNB TUT het Van Staden gesê: “Daar is by my nie die geringste twyfel nie dat ons speler vir speler net so goed indien nie beter nie as enige ander span in die FNB Varsitybeker-reeks toegerus is.

“Ons kon egter nog nie na ons volle potensiaal speel nie omdat ons nog nie ‘n hegte eenheid geword het nie.”

JUSTIN SE GUNSTELINGE:
Kos:
Steak en chips
Drankie: Hunters, passion fruit en lemonade
Speler: Pierre Spies
Provinsiale span: Blou Bulle
Stadion: Loftus Versfeld
Rolprent: Facing the Giants
Musiek: Bobby van Jaarsveld
Stokperdjie: Jag

Deur Morris Gilbert

ADVERTISEMENT

Join free

Japan v USA | Extended Highlights | Asahi Super Dry Pacific Nations Cup

Tonga v Fiji Extended Highlights Asahi Super Dry Pacific Nations Cup

South Africa Women vs Barbarians Women | Full Match Replay

Samoan ‘FREAK ATHLETE’ taking rugby by STORM | No Pads All Studs | Episode 2 Part 1

FILTHY tackles by Islander GIANTS in the PNC | No Pads All Studs | Episode 2 Part 2

Angleterre v France - Match de préparation au WXV - Replay du match

Boks Office | Episode 20 | All Blacks Preview

2024 Pacific Combine

Write A Comment