Tuks neem Carltonliga-voortou
Tuks is die nuwe voorlopers in die tweede ronde van die Blou Bulle se Carltonliga nadat hulle op 26 Junie hul tweede voltal in dieselfde aantal wedstryde behaal het.
Tuks het Naka Bulle met 69-22 kafgedraf en 11 drieë teen drie ingeryg. Dit was Naka se grootste nederlaag van die seisoen.
Tuks was van begin tot einde in beheer van sake en het Naka se foute meesterlik uitgebuit. Die groot uitblinker was die flank Louis van Biljon, wat een van sy beste vertonings nog in die Tuks 1-trui gelewer het.
Tuks en TUT het albei 10 op die puntelys, maar eergenoemde het een wedstryd minder gespeel en het ook ‘n beter puntverskil (50 teenoor 10).
Puntemakers (vir Tuks): Drieë: Louis van Biljon (flank, 2), Dirk Dippenaar (regtervleuel, 2), John-Wessel Bell (linkervleuel, 2), Gerhard van der Merwe (buite-senter), Gertjie Smith (binne-senter), Marius Weber (agtsteman), Renier Wiessener (losskakel), Devan Kruger (plaasvervanger-senter). Doelskoppe: Boeboes Coetzee (heelagter, 7).
Deur Morris Gilbert